BRICS is 'n interregeringsorganisasie bestaande uit tien ontluikende markte, hulle is Brasilië, Rusland, Indië, die Volksrepubliek China, Suid-Afrika (die oorspronklike lidlande waarvan dié akroniem ontleen is), Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate. Oorspronklik is die vier eersgenoemde lande as BRIC gegroepeer, met die aansluiting van Suid-Afrika in 2010. Al vyf BRICS-lande behoort tot die voorste nuut geïndustrialiseerde lande en is lidlande van die Groep van 20.
Die term "BRIC" is oorspronklik deur die Amerikaanse Beleggingsbank- en sekuriteitsverhandelingsmaatskappy Goldman Sachs omtrent einde 2001 vir die groot opkomende markte met 'n jaarlikse ekonomiese groei tussen vyf en tien persent, naamlik Brasilië, Rusland, Indië en die Volksrepubliek China, gebruik.[1] Sedert 2009 vergader die vier lande jaarliks vir ekonomiese en politieke ooreenkomste,[2] sedert 2010 is Suid-Afrika 'n volle lid van die BRICS.[3]
Die BRICS is weens hul groeiende ekonomie, groot bevolkings, groot oppervlaktes en ryk hulpbronne baie belangrik vir die wêreldekonomie. Rusland is met 'n oppervlakte van 17 098 246 km² by verre die grootste land ter wêreld, die Volksrepubliek China is met 'n bevolking van 1 403 500 365 in 2016 die wêreld se mees bevolkte land, gevolg deur Indië se 1 324 171 354 in 2016. Brasilië is volgens oppervlakte sowel bevolking die wêreld se vyfde grootste land.
Die vyf BRICS-lande vorm die leidende lande in hul streke: Brasilië in Latyns- en Suid-Amerika, Rusland in Oos-Europa en Noord-Asië, Indië in Suid-Asië, die Volksrepubliek China in Oos-Asië en Suid-Afrika in Afrika.
Die doelwitte van die BRICS-lande sluit in die wedersydse ondersteuning in ekonomiese en politiese kwessies asook die oprigting van eie internasionale instellings vir wedersydse beleggings, soos die Nuwe Ontwikkelingsbank.
Sedert die middel-2010's word die ekonomieë van die vyf BRICS-lede deur krisisse en dalende groei gekenmerk. As gevolg van die Krim-anneksasie deur Rusland is die Russiese ekonomie deur die Europese Unie en die Verenigde State aan sanksies onderwerp. Brasilië en Suid-Afrika moet met wydverspreide korrupsie en min ekonomiese groei veg. Net die Volksrepubliek China en Indië toon sedert baie jare 'n konstante ekonomiese groei van meer as vyf persent per jaar.
BRICS-leiers op 24 Augustus tydens aankondiging van die uitbreiding
Op 24 Augustus 2023, tydens die 15de BRICS-beraad, het die Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa aangekondig dat Argentinië, Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate deur die huidige lede genooi is om by die blok aan te sluit.[4] Volle lidmaatskap sal op 1 Januarie 2024 in werking tree.[5]
Die doel van hierdie uitbreiding word voorgehou as deel van die plan om 'n "multipolêre" wêreldorde te bou wat gewig gee aan tot dusver gedempte stemme van die Globale Suide en hulle na die sentrum van die wêreldagenda te bring.[6] Op 30 Desember 2023 het die nuwe Argentynse regering egter aan dié land se aansoekproses onttrek en die uitnodiging vir aansluiting van die hand gewys.[7]